Die Markplein: Jou eenstop-studiewinkel

Die Markplein is ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum en jou eenstop-studiewinkel.
Hierdie aanlynplatform is daarop gemik om die lewens van onderwysers én leerlinge te vergemaklik.

Onderwysers:

Vir onderwysers is Die Markplein ’n koop-en-verkoop-platform.
KOOP-platform: Kom ontdek ’n wêreld van voorafopgestelde vraestelle én antwoordstelle opgestel deur kundiges in jou vakgebied. Tyd is een van onderwysers se kosbaarste hulpbronne – en iets waarvan daar dikwels net te min is. Deur Die Markplein-platform het onderwysers nou toegang tot ’n verskeidenheid vakspesifieke vraestelle en antwoordstelle van hoë gehalte.

Vyf redes waarom jy jou volgende vraestel deur Die Markplein moet koop:

  1.  Tyd: Spaar tyd én moeite!
  2. Kundigheid: Put uit die kundigheid van ander onderwysers in jou vakgebied.
  3. Nuwe idees: Deur te sien hoe ander onderwysers dieselfde onderwerpe in vraestelle benader, is ’n wonderlike bron van vars idees.
  4. Koste-effektief: Vraestelle is teen ’n uiters bekostigbare prys beskikbaar.
  5. Onderwerp-spesifiek: Deur Die Markplein se stelsel is dit eenvoudig om vraestelle volgens jou vak se spesifieke onderwerpe en temas op te spoor.

VERKOOP-platform: Deur dié stelsel kry onderwysers nie net die geleentheid om binne ’n japtrap volledige vraestelle te bekom nie, maar hulle kan ook self ’n inkomste deur die stelsel verdien. Stel ’n vraestel op, laai dit op, sit terug en laat jou vraestel die werk (vir jou én ander wat dit koop) doen.

Leerlinge:

Die Markplein is leerlinge se eenstop-studiewinkel! Dit is niks vreemd om ou vraestelle voor die volgende eksamen uit te werk nie. Hoewel matriekvraestelle vir die eindeksamens dikwels maklik bekombaar is, is dit nie so eenvoudig vir ander grade of eksamens nie. Wel, dit was in die aaklige dae voor die koms van Die Markplein. Met Die Markplein is dit nou makliker as ooit tevore om goed vir jou volgende toets of eksamen voor te berei! Gaan soek bloot vir die spesifieke vak, graad, of tema, en siedaar! Teen ’n klein bedraggie land dié vraestel(le) met die antwoordstel(le) in jou e-pos – gereed vir oefen, uitwerk en leer!